Moenie bewarings- en presisieboerdery verwar

Artikel in Nampo-Oesdag,
Bylae in Landbouweekblad, 3 Mei 2002

Mnr. Dennis van der Merwe, produkbestuurder van New Holland, sê sommige boere verwar bewarings- en presisieboerdery met mekaar. Die minimale bewerking van grond vir kontantgewasse om die grond so min moontlik te versteur, is bewaringsboerdery. Dit het egter niks te doen met presisieboerdery nie, wat handel oor die gebruik van bepaalde aspekte van die tegnologie om onder meer insette sinvoller toe te dien. Dié twee metodes kan wel gekombineer word.

Die elektroniese aspek van presisieboerdery is baie belangrik. Dit stel die boer in staat om die inligting te benut wat deur die GPS versamel word. Hierdie inligting word eerstens ingesamel wanneer grondmonsters geneem en ontleed word, en dit gepaard gaan met inligting van die stropermonitor wat die wisseling in opbrengs op die land meet. Hierdie inligting word met ‘n persoonlike rekenaar in die plaaskantoor verwerk en bepaalde bestuursones word geïdentifiseer. Dit word dan oorgedra na die taakkontroleur op die trekker, wat die saaikar en planter of kunsmistoediener trek.

Dan kan die toerusting vir presisieboerdery die vloei van saad, kunsmis, kalk of chemiese middels – selfs meer as een hiervan tegelykertyd, soos saad en kunsmis – na die toediener haarfyn beheer.

New Holland gebruik Flexi-Control daarvoor, wat ook die land se grootte meet. Dit verrig ook ander take, soos om die vlak van saad, kunsmis of chemiese middels in die saaikar te monitor en te waarsku as ‘n pyp verstop is.
Flexi-Coil-sagteware is aanpasbaar by alle GPS-diensverskaffers. Hulle “gesels” dus met mekaar. Alle New Holland-stropers is ook aanpasbaar by GPS-oesmonitors.
Die saaikar is een van die belangrikste werktuie. Dit dra die saad, kunsmis, kalk en/of chemikalieë en stuur dit in die regte hoeveelhede deur middel van uitmeetrollers met lug deur pype na die werktuig agter of voor die saaikar. Albei word gewoonlik deur ‘n trekker gesleep.

Die Flexi-Coil-saaikar kan sowat 15 ha bedien voordat nog saad en kunsmis ingelaai moet word. Daar is dus min onderbrekings. ‘n Saaikar met net een tenk word gebruik wanneer die boer net saad of kunsmis wil toedien. As hy albei hierdie komponente gelyk in die grond wil plaas, koop hy ‘n saaikar met twee of drie tenks of kompartemente.

Vir koring word ‘n tandwerktuig gebruik en vir mielies ‘n gewone mielieplanter. Dit is nie altyd nodig om ‘n nuwe planter te koop nie, aangesien die bestaande mielieplanter gewoonlik geskik is vir presisieboerdery.

Dr. Wim Nell, ‘n onafhanklike navorser, waarsku boere om nie oorhaastig te wees om enige metode of benadering van presisieboerdery te aanvaar alvorens ‘n deeglike studie van die verwagte resultate gemaak is nie. Toerusting word soms ingevoer wat nie in Amerika suksesvol was nie en Suid-Afrikaanse boere brand dan hul vingers met onoordeelkundige aankope van toerusting of dienste.