Presisieboerdery kan werk, maar verg beplanning

Artikel in Nampo-Oesdag,
Bylae in Landbouweekblad, 3 Mei 2002

Presisieboerdery verbeter ‘n plaas se produktiwiteit deur die boer in staat te stel om sy boerdery beter te bestuur; kortom, dit wat ‘n ambisieuse boer nastreef. Dit is egter nie so maklik om hierdie tegnieke te bemeester nie. Die jongste navorsing bewys onteenseglik dat dit deeglike navorsing en beplanning verg om hierin te slaag.

Boere wat die beginsels van presisieboerdery al in die praktyk toegepas het, is in die algemeen opgewonde daaroor en beskou dit as die toekoms van suksesvolle landbou in Suid-Afrika. Daarmee kan hulle hulpbronne doeltreffender benut, boerderybestuur verbeter, insette meer ekonomies aanwend en boerderywins verhoog.
Dit verg wel bykomende kapitaal en beter bestuursvermoëns as by tradisionele boerderytegnologie en -metodes, maar verhoog die boerdery se produktiewe vermoë.

Presisieboerdery is ‘n samestelling van aspekte van die jongste tegnologie. Die algemeenste tegnieke en toerusting is grondmonsterneming (“smart sampling’) volgens ruitverwysings (“grids”); ‘n oesmonitor in stropers om wisseling van opbrengs eng raanvog op ‘n land elke drie sekondes te monitor – met of sonder ‘n geografiese posisioneringstelsel (GPS) – en toerusting vir wisselende toediening van saad, kunsmis, kalk en landbouchemikalieë.

Nog voorbeelde van die jongste tegnologie is ontvangstoestelle vir GPS’e; databasisse vir geografiese inligtingstelsels (GIS); saaikarre; veranderlike toedieningstegnologie (VRT); planters en spuite om saad, kunsmis of chemikalieë in wisselende hoeveelhede op verskillende dele van ‘n saailand volgens vermoë of in probleemgebiede toe te dien; besproeiing teen lae volume; sensors om die grond se vrugbaarheid en pH te bepaal; en ook die onkruidbevolking, asook die lokaliteit en intensiteit van plae en siektes te bepaal; en afstandbeeldwaarneming.

Met ‘n opbrengsmonitor op die stroper, gekoppel aan ‘n GPS, kan ‘n kaart dan geteken word wat die opbrengsverskille op ‘n spesifieke land aandui. Dit wys watter dele hoog en laag produseer. Die boer kan dan regstellende stappe doen, soos om die pH en vrugbaarheid reg te stel, of plantestand en bemestingpeile volgens vermoë te varieer. Die sogenaamde bestuursones word op dié manier geïdentifiseer, wat die boer in staat stel om sy gewasvertakkinge meer wetenskaplik te bestuur en sukses in die boerdery te bevorder.
Hierdie soort boerdery is egter nie van die eerste seisoen af maanskyn en rosegeur nie, want dit neem sowat drie tot vyf jaar om betroubare inligting oor gemiddelde opbrengste te verkry, juis weens droogtes, wisselende reënval, hael en ryp wat gemiddelde opbrengste beïnvloed.

Mej. Ntsikane Matela (nou mev. Maine) van die Sentrum vir Landboubestuur by die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe aan die Vrystaatse Universiteit in Bloemfontein, het pas ‘n meestersgraad in landboubestuur behaal met ‘n tesis oor presisieboerdery in gewasproduksie. Haar gemiddelde punt van 93% was die hoogste vir ‘n M-graad op die universiteit se gradeplegtigheid in Maart 2002.


Mnr Dennis van der Merwe, produkbestuurder van New Holland,
Me Ntsikane Matela (now Maine)
& mnr. Bertie van Zyl, produkspesialis van New Holland


Die doel was om vas te stel in watter mate Suid-Afrikaanse saaiboere die tegnologie vir presisieboerdery aanvaar. Die navorsing is gedoen by die volgende plekke waar presisieboerdery gevolg word: In die mieliedriehoek (Noord-Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga), by besproeiingskemas in Noord-Kaap, en dele van die Wes-Kaap waar wintergewasse verbou word.
Mej. Matela sê presisieboerdery in Suid-Afrika is in sy kinderskoene en minder as 1% van die saaiboere in die groot gewasproduksiegebiede het van die tegnologie daarvoor aangeskaf. Toerusting om opbrengste te monitor, word byvoorbeeld al wyd in Amerika gebruik (sien tabel), wat ‘n aanduiding is in hoeverre hierdie boerdery al daar aanvaar word.

Land Opbrengsmonitering
Noord-Amerika 28 000
Europa 1 161
Suid-Amerika 426
Australië 800

Gebruik van opbrengsmonitering (Junie 2001)

Plaaslike boere wat die stappe gedoen het, is egter opgewonde oor hierdie tegnologiese hulpmiddel en hulle is oortuig dat dit ‘n nuwe tydperk in die Suid-Afrikaanse landbou gaan inlui. Een boer se opbrengs met die droëlandmielies het van 2,5 t/ha – 3,5 t/ha tot 5 t/ha – 9 t/ha toegeneem nadat variasies in die toediening van saad en kunsmis toegepas en beperkings opgehef is.
Hoërvlakopleiding is nodig vir presisieboerdery, aangesien al die boere wat ondervra is, minstens ‘n landboudiploma of hoër opleiding het. Almal wat dié tegnologie gebruik, wend ‘n groot deel van hul saaigrond vir dié boerdery aan. Hulle is grotendeels boere met baie saaigrond en hulle behaal hoë opbrengste.
Die gebruik van verskillende aspekte van die tegnologie wissel van streek tot streek. Die neem van grondmonsters word algemeen toegepas. Die monitor van opbrengs is gewild in die Vrystaat, terwyl die Wes-Kapenaars hulle meer op die veranderlike toediening van kalk en kunsmis toespits.
Mej. Matela sê die getal boere wat presisieboerdery volg, gaan in die toekoms baie toeneem. Goeie bestuurders besef hierdie boerderymetode bied die geleentheid om wins te verhoog en risiko te verlaag.

Winsgewendheid is die vernaamste dryfveer agter boere se besluit ten gunste van presisieboerdery. Gewasse met ‘n hoë winsgrens is by uitstek hiervoor geskik. Die hoë pryse wat minder winsgewende gewasse soos mielies en koring nou behaal, kan egter veroorsaak dat méér graanboere oorskakel. Kunsmispryse, wat in 2000 verdubbel het, kan ook deurslaggewend wees omdat kunsmis doeltreffender met wisselende toedienings gebruik word.
Een van die probleme is die hoë koste van grondmonsters wat geneem word en die satelliettegnologie wat daarmee gepaard gaan. Elke plek op die saailand waar ‘n grondmonster geneem word, word met die GPS aangeteken, sodat ‘n kaart geteken kan word. Met grondmonsterneming volgens ruitnetverwysings word klein hoeveelhede grond op verskillende dele van ‘n land geneem. Elke monster se posisie word later op ‘n kaart aangebring. Saam met dié ontleding van die monsters kan die boer dan agterkom wat die grond se voedingstatus en grondsuurheid (pH) is, asook hoe dit oor die land wissel.
Sommige boere verkies om eers die eerste oes met ‘n GPS-oesmonitor op die stroper te oes om te sien hoe die opbrengs wissel.
Grondontledings en kartering is noodsaaklik om die grond se tipe en vrugbaarheid en dus opbrengsvermoë te bepaal. Daarsonder kan presisieboerdery nie slaag nie.
Dit gee ook inligting oor swak dele weens vlak grond of ‘n hoë kleipersentasie. Die boer kan die grond volgens elke deel se wisselende vrugbaarheid na behoefte van kunsmis voorsien en die regte hoeveelheid saad volgens oesvermoë plant of saai.
Sy sê, howel presisieboerdery se toekoms belowend lyk, is daar nog baie werk nodig om dit te bevorder. Daar is ‘n tegnologie-gaping tussen gevorderde tegnologie en boere se kennis van die grond, ekonomiese taksering en betroubare, praktiese gebruiksmetodes. Vervaardigers, voorligters, grondkundiges en boere moet saamwerk om dié gaping te oorbrug. Nuwe tegnologie moet aan die boere se behoeftes voldoen en by grondkundige navorsing ingesluit word om gebruikersvertroue te skep.
Die eerste stap is om die regte boerderymetodes te bepaal en aandag aan boere se probleme en beperkings te gee. Dan moet die maatskappye en voorligters hul verskillende benaderings standaardiseer om te voorkom dat boere met beperkte kennis geld mors op verkeerde toerusting wat nie aanpasbaar is nie. Inligting moet van die navorsers na die boere vloei en weer terug, sodat die navorsers kennis kan neem van die boere se probleme en oplossing kan bied, wat die boere dan op hulle beurt kan toets. Plaasproewe sal verseker dat nuwe tegnologie aanpasbaar, relevant en aanvaarbaar is.
Navorsing oor presisieboerdery by besproeiing bestaan nog glad nie in Suid-Afrika nie. Sy grond dit op ‘n bevinding deur haar toesighouer, Dr Wim Nell, en mnr. Jaco Dennis verlede jaar. Water gaan nog baie duurder word en presisiebesproeiingsboerdery sal noodsaaklik vir hierdie tipe boerdery word.


‘n Voorbeeld van ‘n opbrengspotensiaal volgens die GPS-ruitpatroon. Op hierdie land het die opbrengs van 2 t/ha tot 14 t/ha gewissel.

Meer navorsing is ook noodsaaklik in die Wes-Kaap om die regte strategie vir ‘n aanpasbare boerderystrategie te bepaal.

Mej. Matela gaan haar navorsing vir haar doktorale studies met geld van New Holland voortsit om te bepaal hoe winsgewend presisieboerdery is. Die maatskappye het ook haar ander navorsing gefinansier. Hulle finansier alle navorsing oor die ekonomie van presisieboerdery aan die Sentrum vir Landboubestuur.

Oor die bekostigbaarheid van toerusting vir presisieboerdery, sê New Holland, wat toerusting in die Flexi-Coil-reeks verkoop, dat dit volgens hul navorsing geld is wat goed belê word. Dit bring vir boere dividende in, want hul gemiddelde opbrengs styg, bestuur verbeter en wins neem toe.
As ‘n boer toerusting van die maatskappy koop, borg hulle vir hom ‘n kort kursus oor presisieboerdery by die Sentrum vir Landboubestuur. Dit gee ‘n breë begrip en agtergrond oor presisieboerdery, sodat die boer ingeligte besluite oor die koop van toerusting en inskakeling van presisieboerdery by die bestaande boerdery-opset kan neem. Ekonomiese aspekte kry ook aandag.

New Holland sê die beplanning van so ‘n boerdery geskied nie oornag nie. Die boer moet eers navorsing oor sy grond, boerdery-omstandighede en oor die regte toerusting doen. Alle werktuie pas nie noodwendig by mekaar aan nie. Die boer kan dalk ook van sy bestaande werktuie gebruik.