Senwes steun Ph.D. studie steun unieke Ph.D.-studie oor presisieboerdery

Deur Johan Smit, Senwester

Om 07:30 op 20 November verlede jaar vertrek ‘n konvooi voertuie vanaf Schoonspruit-silo na die plaas Rietkuil in die Bothaville-distrik. Die konvooi: vyf Senwes-bakkies wat toegerus is met grondbone en toerusting. Die opdrag: om grondmonsters op 100 ha landbougrond in een dag in te samel, maar met ‘n heelwat kleiner ruitpatroon as wat normaalweg gebruik word.

Vir doeleindes van grondbeskrywings en -ontledings word ‘n 200 m × 200 m rooster algemeen gebruik, aangesien dit ‘n gunstige koste-/voordeelverhouding bied, maar deel van die dag se sending was om met ‘n hoër frekwensie van opnames ‘n aanvanklike 50 m × 50 m ruitpatroon te gebruik en dit te vergelyk met die volgende ruitpatrone: ‘n 100 m × 100 m, 150 m × 150 m en 200 m × 200 m om onder andere die ekonomiese gelykbreekpunt van ruitintensiteit te bepaal. Hoe hoër die frekwensie, hoe akkurater is die klassifikasie van grondtipes.
Dit is reeds die derde seisoen wat konvensionele produksiestelsels teenoor presisieboerdery-produksiestelsels op die plaas Rietkuil, van Thabo van Zyl, nagevors word.

Die proefuitleg bestaan uit ‘n strook (6 rye) konvensionele verbouing, afgewissel met ‘n strook differensiële verbouing – wat uiteindelik met behulp van ‘n oesopbrengsmonitor gestroop word.

Die projek vorm deel van mev. Ntsikane Maine se Ph.D.-studie oor die ekonomie van presisieboerdery in die Bothaville-distrik.

Hierdie navorsing is ‘n eerste in sy soort in Suid-Afrika omdat daar wetenskaplik gekyk word na die ekonomie van presisieboerdery.

“Die waarde van gedetailleerde grondopnames word wêreldwyd onderskat, terwyl grond die enigste veranderlike in oesopbrengste is wat se eienskappe konstant bly.

Senwes Landboudienste-afdeling se deelname aan dié kaliber projekte neem ons diens aan produsente om deur middel van doeltreffende grondgebruik hul risiko beter te bestuur, ‘n tree vorentoe”, het mnr. Johan du Toit, Bestuurder: Landboudienste van Senwes, gesê.